Monday, April 17, 2006

Retrospeksie na 'n Paasnaweek


'n Dolle, gejaagde, dog geseënde Paasweek lê in die verlede.
Buiten die Ware Goddelike boodskap wat ons kraakvars ontvang het, het ek enkele interessante gewaarwordings gemaak.

Ons kerk - Christ Fellowship - het die stadsbewonders die kerk ingelok met 'n opvoering van die Paasverhaal, vyf opvoerings altesaam. 'n Allemintige groot produksie met 'n professionele regisseur, bykans 200 akteurs en dekor om die asem weg te slaan en les bes, 'n steekse donkie.
'n Gemiddeld van sowat 900 mense het elke opvoering bygewoon.
Voorwaar - in Amerika word alles op groot skaal gedoen.

Ek en Sarah was beide bevoorreg om deel van die produksie te wees. Ek het Barabas die skuimbol gespeel en het elke aand na werk kerk toe gejaag om die troffels grimering te laat opplak voordat ek in geskeurde klere saam met Jesus voor Pontius P. gaan staan het.


Dit was interessant om te sien hoe die eenvormige kleredrag van al die akteurs, aktrises en sangers, sosiale onderskeiding afgebreek het.
Hoe 'n Petrus totaal uit sy aard begin leiding neem en 'n sterk gemeenskapsleier na die agtergrond skuif vir 'n week, as 'n bedelaar.

No comments: